Die Rubriek is die Afrikaanse noir-wetenskapfiksieheelal van T.K. Rogue: dit sentreer om ’n versteekte argief in Pretoria. Die argief vorm deel van die dokumentstoor van Die Rubriek (’n duistere mediahuis) wat sedert 1986 liasseer wat liewer vergete moes gebly het.
Die Rubriek is die fiktiewe instelling waarin T.K. Rogue se verhale afspeel. Die wêreld bestaan uit boeke, kortverhale, Zines, die digitale musiek (met eie lirieke) en die kort films. Dit is nie ’n reeks losstaande stories nie. Dit is een wêreld, gesien deur die enigste venster wat ’n burokrasie eerlik hou: die lêer.
Die Rubriek is verder ’n dokumentstoor. ’n Plek waar die instelling beheer oor sy papieroorlog verloor het. Inligting en getuienis kom in, word geëtiketteer, gestempel, en in ’n rak gesit waar dit die Rubriek se beheer oor inligting en narratiefbeïnvloeding die sterkste ondersteun.
Elke uitgawe wat jy op hierdie webwerf koop of lees, is een van daardie lêers wat ontsnap het: ’n onderhoudstranskripsie, ’n interne omsendbrief, ’n gedig wat as bewysstuk ingedien is. Alles is getuieverklarings van iemand wat deur die krake van die Rubriek geval het.
Die lêers was versteek. Mense gemuilband. Sommige het ontsnap. Dit wat die argiewe uitoorlê het.
Die Rubriek is ’n Afrikaanse noir-wetenskapfiksieheelal oor duistere instellings, geheue, burokrasie, mediamanipulasie, trauma, tegnologie, en die skadu onder die aanvaarbare werklikheid.
Die register is Pretoria-noir: ’n aanslag van administratiewe swaarmoedigheid in ’n eeu van neonskerms en tweedehandse werklikheid. Die gange van burokrasie om tweeuur die oggend. Jakarandaskemers. Analoë seine op kassetbande wat niemand meer kan speel nie. Dit is nie “cyberpunk” nie en dit is nie “vaporwave” nie — dit is die Suid-Afrikaanse burokrasie met sy eie soort spookstorie, waar die verskrikking nie ’n monster is nie maar mense en papiere wat geliasseer word.
Die taal is Afrikaans eerste, met Engels waar die lêers die grense oorsteek. Dit is ’n keuse, nie ’n beperking nie: Afrikaans se samevoegings en karakter laat soms toe wat Engels moet omskryf. ’n Ligvergruisingsprotokol. ’n Duistersigvleuel. Woorde self is ’n Afrikaanse sci-fi-wêreldbou.
Die lêers dra RB-nommers in volgorde van terugwinning, maar jy kan enige plek die Rubriekargief betree. Vier goeie ingange:
Die volledige katalogus verskyn op die Written Record. Die klank- en beeldkant van dieselfde saak — liedere, musiekvideo’s, onderskepte uitsendings — staan by Onderskepte Uitsendings. Nuwe lêers en skryfwerk word eerste op Substack uitgereik.
TK Rogue is die skrywer agter Die Rubriek: ’n Afrikaanse noir-wetenskapfiksieskrywer uit Pretoria. Meer oor die plek van hierdie werk in Afrikaanse wetenskapfiksie.
Die Rubriek (“The Rubric”) is the fictional archive of a haunted Afrikaans media house, and the world in which every TK Rogue work is set. It is a noir universe about hidden institutions, memory, bureaucracy, media manipulation, trauma, technology, and the shadow beneath acceptable reality. It has been filing what the country would rather have forgotten since 1986. Each release is an escaped file: a transcript, an internal memo, a poem entered as evidence — a witness statement from someone who fell through the cracks of the bureaucracy. The register is Pretoria noir: administrative melancholy in a neon age. Most of it is written in Afrikaans, with English where the file crosses a boundary. Start with the Written Record.